Midrand Christen Gemeente bied Bybelse Berading aan gegrond op ons oortuiging dat die Bybel ons alles bied wat ons nodig het vir lewe en Godsvrug (2 Pet 1:3). Ons integreer dus nie Berading en Sielkunde nie maar verkondig “Hom, terwyl ons elke mens vermaan, en elke mens in alle wysheid onderrig, om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel” (Kolossense 1:28)

Woede:

Daar is verskeie “groot” sondes wat deur meeste van ons geïdentifiseer kan word. Een wat egter nie baie duidelik waarneembaar is nie, is woede. En wanneer ons wel ‘n geneigdheid tot woede in ‘n mede-Christen raaksien, is ons tog onwillig om onsself daaraan bloot te stel.

Christus leer ons duidelik in Jakobus 1:20 dat ‘n mens wat kwaad word, nie reg voor God doen nie.

Maar dit is nie ‘n maklike gewoontesonde om af te leer nie. Daarom moet ons die ‘aanleer-afleer’ beginsel van Efesiërs 4:31-32 by onsself inskerp, en so aan God eer bewys. Selfbeheersing is steeds deel van die vrug van die Gees.

Depressie:

Elkeen van ons ken iemand wat gebuk gaan onder die tirannie van moedeloosheid. Hoe vereenselwig ons dit met die woorde van Filippense 4:4 wat ons beveel om altyd bly te wees in die Here?

Die pad terug na tevredenheid begin met twee brokkies begrip:

i.                     God het die vermoë om my te help.

ii.                   God gee die stappe wat ek moet neem.

Wat ‘n vooruitsig! ‘n Christen kan wel God se opdragte uitvoer.

Pornografie/Wellus:

Volgens Romeine 6:23 het sonde net een begeerte – om ‘n mens te vernietig. Sonde sal ons vreugde steel; dit sal ons verhoudinge vernietig; dit sal ons uitteer. As ons dit dan weet, hoekom gee soveel mense hulleself oor aan die sonde van pornografie, wellus, en ander onsedelikhede? Galasiërs 5:17 sê tog duidelik dat sondige begeertes in stryd is met wat God se Gees van ons wil hê.

Maar daar is ‘n baie ernstiger waarskuwing. Net 4 verse verder lees ons in Galasiërs 5:21 dat mense wat hulle aan hierdie tipe sondes oorgee, nie deel kan word van die Koninkryk van God nie.

Dit is ‘n verskriklike gedagte: ek moet kies – óf ek verlustig my in hierdie verbygaande sonde wat geen vervulling bring nie, óf ek word deel van die ewige Koninkryk van God waar daar totale vervulling is.

Weereens is die pad weg van hierdie sonde af, ‘n moeilike een. Maar God belowe ons in 1 Kor 10:13 dat Hy getrou is, en dat Hy nie sal toelaat dat ons bo ons kragte versoek word deur sonde nie. Hy sê dat wanneer ons versoek word, Hy ons die pad weg van sonde af sal wys.

Oorwinning! Wat ‘n vooruitsig.

‘n Huwelik wat nie aan God eer bring nie?:

Die oumense het gesê, “Trou is nie perdekoop nie.” As ons na Christen huwelike om ons kyk, dan sien ons die waarheid van hierdie woorde – dit is maklik om ‘n perd te koop; dit is glad nie so eenvoudig om ‘n huwelik te hê wat Godverheerlikend is nie.

Interessant is dat God se eerste inspraak in die huwelikslewe reeds in Genesis 1:28 voorkom. Kort daarna, in Gen 2:24 gee Hy meer duidelikheid. Soos ons deur die res van die Bybel lees, word dit meer en meer ooglopend hoe God se ontwerp vir die huwelik lyk.

Dit is die teorie. Wat gemaak indien my huwelik nie ‘n toonbeeld is van vreugde en geluk nie?

Soos altyd gee God ons duidelike inligting in die Bybel oor hoe om ‘n kruppel huwelik te herstel. Hy gaan dit nie vir ons doen nie – maar Hy gee ons die stappe om dit self reg te maak. ‘n Duidelike rigtingwyser is in Efesiërs 5:21 waar daar staan, “Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.” En dan help die Bybel ons stap vir stap verder om reguit te maak dit wat krom is.